Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 14:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Glo jy dan nie dat Ek in ’n hegte verhouding met die Vader leef en Hy met My nie? Die gedagtes wat Ek met julle deel, kom nie uit Myself nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly en deur My sy werke uitvoer.

11. Glo in My omdat Ek in ’n hegte verhouding leef met die Vader en Hy met My; so nie, glo dan net op grond van hierdie werke self.

12. “Ek verseker julle, wie aanhou glo in My, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe op pad is.

13. Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen sodat die Vader deur die optrede van die Seun verheerlik word.

14. As julle My enigiets in my Naam vra, sal Ek dit beslis doen.”

15. “As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam.

16. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees;

17. dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.

18. “Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe.

19. Nog net ’n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog, omdat Ek lewe en julle sal lewe.

20. Op daardie selfde dag sal julle goed weet dat Ek in ’n hegte verhouding met my Vader leef, en julle met My, en Ek met julle.

21. “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”

22. Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?”

23. Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan.

Lees volledige hoofstuk Johannes 14