Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:16-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Tomas, wat ook Didimus genoem is, het vir die ander dissipels gesê: “Laat ons ook gaan sodat ons saam met Jesus kan sterf.”

17. Toe Jesus daar aankom, het Hy uitgevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer drie kilometer daarvandaan.

19. Baie van die Jode het by Marta en Maria opgedaag om hulle meegevoel oor hulle broer te betuig.

20. Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom gaan ontmoet. Maria het egter in die huis bly sit.

21. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U maar net hier was, sou my broer nie gesterf het nie.

22. Maar selfs nou nog weet ek dat God aan U sal gee wat U Hom ook al vra.”

23. Jesus sê vir haar: “Jou broer sal weer opstaan.”

24. Marta het dadelik reageer: “Ek weet dat hy weer sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.”

25. Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook.

26. Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?”

27. Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek is vas oortuig dat U die Messias is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld toe sou kom.”

28. Nadat sy dit gesê het, het sy teruggegaan en haar suster Maria gaan roep en stilletjies vir Maria gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29. Toe sy dit hoor, het Maria gou-gou opgestaan en na Jesus toe gegaan.

Lees volledige hoofstuk Johannes 11