hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jou tong is ’n baie kragtige

instrument; hou dit in toom!

1. My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel.

2. Ons maak almal baie foute. Maar ’n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry.

3. Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer.

4. En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai.

5. So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.

6. Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan.

7. Die mens kan elke soort dier, voël, reptiel en seedier mak maak,

8. maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n onbeheerbare kwaad, vol dodelike gif.

9. Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is.

10. Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie, my broers en susters!

11. Kan ’n fontein uit dieselfde oog soet en bitter water laat opborrel?

12. Kan jy olywe van ’n vyeboom afpluk, of vye van ’n druiwestok? Net so min as wat ’n brak bron vars water kan voortbring!

Hemelse wysheid word

sigbaar in ’n baie spesifieke

leefstyl

13. Aangesien julle wys is en verstaan wat God wil hê, moet julle sorg dat julle leefstyl goed is. Julle wysheid moet juis in nederige gedrag sigbaar word.

14. As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg!

15. Jaloesie en selfsug is nie wysheid wat van God af kom nie. Dit is eerder aards, tipies van iemand se sondige natuur. Eintlik is dit demonies,

16. want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry.

17. Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om ontferming te betoon, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg.

18. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God.