hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sewe mans word vir ’n

spesifieke diens in die gemeente

gekies

1. Namate die aantal gelowiges steeds toegeneem het, het daar klagtes gekom. Die Griekssprekendes het gekla oor die daaglikse verspreiding van kos aan hulle weduwees. Hulle het beweer dat die Arameessprekendes hulle afskeep.

2. Die Twaalf roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle:“Ons as apostels behoort ons besig te hou met die verkondiging van die woord van God, nie met die verspreiding van kos nie.

3. Medegelowiges, kies sewe mans onder julle wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het. Ons sal hulle dan vir hierdie bediening aanstel.

4. Óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.”

5. Die voorstel het by almal byval gevind, en hulle het die volgende mans verkies: Stefanus (’n man vol van geloof en die Heilige Gees), Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus van Antiogië (wat voorheen ’n Joodse proseliet was).

6. Hierdie sewe is aan die apostels voorgestel, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê om hulle vir hulle taak toe te rus.

7. Die woord van God het verder versprei, en die aantal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ’n groot klomp priesters het gelowig geword.

Stefanus word gearresteer

8. Stefanus, ’n man vol van God se genade en krag, het wonders en groot tekens onder die mense gedoen.

9. Op ’n dag het ’n klompie lede van die sogenaamde “Sinagoge van die Vrygelate Slawe” met hom in debat getree. Hulle was Jode wat van Sirene en Aleksandrië, en van die provinsies Silisië en Asië gekom het.

10. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid en die Gees waarmee hy gepraat het nie.

11. Toe het hulle mans omgekoop om oor Stefanus te jok en te sê: “Ons het hom beledigende dinge teen Moses en selfs teen God hoor sê.”

12. Só het hulle dit reggekry om die skares en die familiehoofde en die skrifkenners op te sweep. Dié het Stefanus gearresteer en hom voor die Joodse Raad gebring.

13. Die vals getuies het gesê: “Hierdie man hou aan om afbrekend van die tempel en van die wet van Moses te praat.

14. Ons het hom regtig hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal verwoes en die tradisies wat Moses vir ons gegee het, sal verander.”

15. Al die raadslede het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van ’n engel skitter.