Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:17-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Die hoofpriester en sy ondersteuners, die Sadduseërs, word toe jaloers en besluit om iets aan die saak te doen.

18. Hulle het die apostels gearresteer en in die publieke tronk gestop.

19. Maar ’n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en vir hulle gesê:

20. “Gaan tempel toe en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe manier van lewe!”

21. Hulle het geluister en met dagbreek tempel toe gegaan en die mense begin onderrig.Toe het die hoofpriester en sy amptenare ’n sitting van die Joodse Raad en die leiers van Israel belê. Hulle het die apostels vir die verhoor van die tronk af laat haal.

22. Maar toe die tempelwagte by die tronk kom, was die apostels weg. Hulle het kom rapporteer:

23. “Ons het die tronk toegesluit en ten volle beveilig gekry. Die bewaarders was buite op hulle pos. Toe ons egter die tronkdeure oopmaak, was daar niemand binne nie!”

24. Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde hierdie verslag hoor, was hulle verstom en hulle het gewonder wat aangaan.

25. Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan in die tempel en onderrig die mense!”

26. Die bevelvoerder het toe saam met die tempelwagte die apostels gaan arresteer. Hulle het nie geweld gebruik nie, want hulle was bang die mense steek hulle onder die klippe.

27. Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoofpriester het hulle begin ondervra:

28. “Het ons julle nie belet om ooit weer die mense in hierdie Man se Naam te onderrig nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer oor Jesus! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir sy dood!”

29. Petrus en die ander apostels het in reaksie hierop gesê: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!

30. Die God van ons voorouers het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom te kruisig.

31. God het Hom verhoog tot Leier en Verlosser in die regeerposisie reg langs Hom. Hy het dit gedoen om Israel tot inkeer te bring sodat hulle vergifnis van sonde kan ontvang.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5