Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:21-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Vir ’n lang tyd het niemand sy mond aan kos gesit nie. Uiteindelik het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Mooi Hawens in Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade gespaar gewees het.

22. En nou vra ek julle: Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan.

23. Verlede nag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan

24. en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’

25. Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.

26. Ons moet op ’n eiland strand.”

27. Die veertiende nag wat ons so op die Adriatiese See rondgedobber het, teen middernag, het die matrose vermoed dat hulle naby land kom.

28. Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van 36 meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer gemeet, en toe kry hulle 27 meter.

29. Hulle was bang ons loop naderhand op die rotse en het daarom vier ankers by die agterstewe uitgegooi en gebid dit moet dag word.

30. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die reddingsbootjie in die see begin neerlaat asof hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak.

31. Paulus sê toe vir die Romeinse offisier en sy soldate: “As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32. Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom laat afval.

33. Net toe die dag begin breek, het Paulus by almal aangedring om iets te eet: “Vandag is al die veertiende dag dat julle in spanning sonder kos wag, en niks eet nie,” het hy gesê.

34. “Daarom dring ek by julle daarop aan om nou iets te eet. Dit sal julle verseker help om te oorleef. Daar sal nie eers ’n haar van een van julle se koppe af verlore gaan nie!”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27