Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Vyf dae later het die hoofpriester Ananias saam met ’n paar van die familiehoofde en ’n advokaat, Tertullus, daar aangekom. Hulle het hulle aanklag teen Paulus aan die goewerneur voorgelê.

2. Paulus is ingeroep en Tertullus het die aanklag begin voorhou: “Hooggeagte Feliks, deur u toedoen lewe ons nou al lank in vrede, en deur u beleid het daar vir ons volk goeie transformasie plaasgevind.

3. Dit verwelkom ons altyd en oral met alle dankbaarheid.

4. Ek wil u egter nie nog langer vermoei nie, en daarom versoek ek u om met u kenmerkende welwillendheid kortliks na ons te luister.

5. Ons het bevind dat hierdie man ’n absoluut verderflike invloed is. Hy maak dat al die Jode oor die hele wêreld in opstand kom. Hy is ’n leier van die Nasarener-splintergroep.

6. Hy het selfs die tempel probeer ontheilig, en toe het ons hom gearresteer.

8. U sal self agterkom waaroor ons hom aankla wanneer u hom oor al hierdie dinge verhoor.”

9. Die Jode het ook gepraat en bevestig dat dit is soos Tertullus sê.

10. Op ’n teken van die goewerneur aan Paulus dat hy moet praat, het hy hom begin verweer: “Ek weet dat u al jare lange ervaring het van regspreek oor Joodse sake. Daarom stel ek my verweer met hoë verwagting.

11. U kan self agterkom dat ek nie meer as twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom het om by die tempel te aanbid nie.

12. Verder het niemand my in die tempel gekry dat ek met iemand stry, of dat ek in die sinagoges of in die stad betogings organiseer nie.

13. Dit waarvan hulle my nou beskuldig, kan hulle ook nie vir u bewys nie.

14. “Dít erken ek egter wel voor u: Die God van my voorvaders dien ek volgens ‘Die Pad’; hulle noem ons ’n splintergroep. Ek handhaaf alles wat in die wet voorgeskryf is en in die profeteboeke geskryf staan.

15. Ek het my hoop op God gestel – iets wat hulle self ook verwag – dat God die opstanding van die goeies en die slegtes gaan laat plaasvind.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 24