Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 18:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Paulus het die stad vir ’n jaar en ses maande lank sy basis gemaak en die mense onderrig in die woord van God.

12. Toe Gallio egter goewerneur van Agaje geword het, het sommige Jode ’n verenigde front teen Paulus gevorm en hom voor die hof gedaag.

13. Hulle het Paulus daarvan aangekla dat hy die mense “probeer oorhaal om God op maniere te vereer wat teen die wet is”.

14. Net toe Paulus homself wou begin verdedig, sê Gallio vir die Jode: “As dit oor ’n onreg of ’n ernstige misdaad gegaan het, Jode, sou ek julle klag aangehoor het.

15. Maar aangesien dit ’n twis is oor ’n boodskap en name en oor julle eie wet, moet julle self daaraan aandag gee. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.”

16. Hy het die hof toe verdaag.

17. Die klaers het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie.

18. Paulus het nog etlike dae in Korinte gebly, en toe van die gelowiges afskeid geneem. Hy het Sirië toe weggevaar, en Priscilla en Akwila is saam met hom. (In Kengreë het hy sy hare laat skeer omdat hy ’n gelofte gedoen het.)

19. By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote by die hawe gelos en self die sinagoge besoek. Daar het hy met die Jode geredeneer.

20. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie.

21. Toe hy vertrek, het hy gesê: “Ek kom na julle toe terug, as God wil.” Hy het toe van Efese af weggevaar

22. en in Sesarea aan land gegaan. Daarvandaan het hy opgegaan en die gemeente in Jerusalem gaan groet, en toe Antiogië toe vertrek.

23. Na hy ’n tyd lank in Antiogië gebly het, het hy weer vertrek. Hy het deur die landstreke Galasië en Frigië gereis, en oral die gelowiges geestelik versterk.

24. Intussen het Apollos, ’n Jood wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker en goed met skrifuitleg.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 18