Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 18:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Paulus het Atene verlaat en Korinte toe gegaan.

2. Daar het hy Akwila ontmoet, ’n Jood wat in Pontus gebore is. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom. Hulle is uit Italië weg omdat keiser Claudius beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek.

3. Hy het by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk, want hulle was tentmakers net soos hy.

4. Elke Sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en sowel Jode as Grieke probeer oortuig.

5. Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af aangekom het, het Paulus al sy aandag bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Messias is.

6. Toe hierdie Jode hom egter aanhou teenstaan en beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop. Ek is onskuldig. Van nou af spits ek my toe op die nie-Jode.”

7. Hy is toe daar uit, en het na die huis reg langs die sinagoge gegaan. Dit het behoort aan Titius Justus, ’n nie-Jood wat die ware God aanbid het.

8. Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huishouding het tot geloof in die Here gekom. Ook baie Korintiërs het in reaksie op die boodskap gelowig geword en is gedoop.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 18