Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Paulus se begeleiers het hom tot in Atene vergesel. Toe het hulle teruggegaan met ’n opdrag aan Silas en Timoteus om so gou moontlik by Paulus aan te sluit.

16. Terwyl Paulus in Atene vir hulle wag, het hy diep verontwaardig geword toe hy agterkom die stad is so vol afgodsbeelde.

17. Hy het in die sinagoge geredeneer met die Jode en dié wat die ware God aanbid het, en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat.

18. ’n Paar filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gedebatteer. Toe Paulus oor Jesus en sy opstanding praat, het party gesê: “Wat sou hierdie kletskous tog wil sê?” Ander het gesê: “Hy klink na vreemde gode se boodskapper.”

19. Hulle het hom na die Areopagusraad toe gevat en gesê: “Ons wil graag meer weet oor hierdie nuwe leer wat deur jou verkondig word.

20. Dis regtig vreemde dinge wat ons hoor; ons wil graag weet wat dit beteken.”

21. (Al die Ateners en die uitlanders in Atene het feitlik al hulle tyd aan die bespreking van nuwe idees bestee.)

22. Paulus het toe in die middel van die Areopagusraad stelling ingeneem en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte nogal regtig godsdienstig is.

23. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die voorwerpe wat julle aanbid, het ek ook ’n altaar gesien met die inskripsie: ‘Aan ’n onbekende god.’ Nou ja, hierdie God wat julle aanbid sonder om Hom te ken, Hóm verkondig ek aan julle.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17