Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:26-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!

27. Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak.

28. Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!”

29. Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval.

30. Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?”

31. Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.”

32. Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig.

33. Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se wonde versorg. Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense.

34. Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het.

35. Toe dit dag word, het die stadsowerhede polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense vry!”

36. Die tronkbewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die landdroste het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan dan nou vertrek; gaan in vrede.”

37. Maar Paulus het geantwoord: “Ons is sonder dat ons skuldig bevind is, in die openbaar geslaan en in die tronk gestop – en dít terwyl ons Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons sommerso stilletjies ontslaan. Volstrek nie! Laat hulle ons self kom uitlei!”

38. Die polisie het hierdie boodskap vir die stadsowerhede vertel, en hulle het groot geskrik toe hulle hoor Paulus en Silas is Romeinse burgers.

39. Hulle het hulle om verskoning gevra, hulle uit die tronk gelei en hulle gevra om die stad te verlaat.

40. Paulus en Silas is toe terug na Lidia se huis, en hulle het die gelowiges gesien en hulle bemoedig. Daarna het hulle vertrek.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16