Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:23-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie.

24. In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem.

25. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.

26. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!

27. Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak.

28. Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!”

29. Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval.

30. Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?”

31. Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16