Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Paulus het na Derbe gegaan en toe na Listra. Dáár het hulle Timoteus ontmoet, ’n gelowige; sy ma was ’n Jodin, ’n gelowige, en sy pa ’n Griek.

2. Daar was van die kant van die gelowiges in Listra en Ikonium goeie getuienis oor Timoteus.

3. Paulus wou hom by sy vertrek saamneem. Met die oog op die Jode in daardie gebied het hy Timoteus toe besny. Almal het immers geweet sy pa is ’n Griek.

4. Soos hulle die stede deurreis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra om daarvolgens te leef.

5. So is die gemeentes in hulle geloof versterk, en die aantal gelowiges het by die dag meer geword.

6. Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig.

7. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie.

8. Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe.

9. Daar het Paulus in die nag ’n visioen gehad. Hy het ’n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10. Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig.

11. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16