Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:31-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Jesus het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.

32. “En nou verkondig ek en Barnabas hierdie Goeie Nuus aan julle: God het die belofte aan ons voorgeslagte waar laat word.

33. Hy het dit vir ons, hulle nageslag, vervul deur Jesus te laat opstaan. So staan dit dan ook in die tweede psalm oor Jesus geskryf:‘Jy is my Seun;Ék het jou vandag verwek.’

34. “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit tot niet gaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: ‘Ek sal vir julle die beloftes vervul wat Ek betroubaar aan Dawid toegesê het.’

35. “Daarom sê God ook elders: ‘U sal nie toelaat dat die Een wat aan U toegewy is tot niet gaan nie.’

36. Dit verwys nie na Dawid nie, want hy het tog gesterf nadat hy die mense van sy eie tyd gedien het soos God beskik het. Hy is by sy voorgeslagte begrawe, en sy liggaam hét tot niet gegaan.

37. Nee, die verwysing is na Iemand anders: Hóm het God opgewek, sý liggaam het nie tot niet gegaan nie.

38. “Daarom, geagte volksgenote, moet julle goed weet wat nou aan julle verkondig word: vergewing van sondes deur Jesus! Julle kon nie deur die wet van Moses God se vryspraak verkry nie,

39. maar deur Jesus word elkeen wat glo, deur God vrygespreek.

40. Pas dan op dat wat in die profete gesê is, nie op julle van toepassing word nie:

41. ‘Sien dit tog raak, julle veragters!Staan verstom en gaan te gronde!Want in julle tyd doen Ek iets,iets wat julle beslis nie sal glo nie,selfs nie as iemand ditvir julle vertel nie.’”

42. Terwyl Paulus en Barnabas die sinagoge verlaat, het die mense hulle gevra om die volgende Sabbatdag meer van dié dinge te vertel.

43. Ná die sinagogediens het baie van die Jode en van die nie-Jode wat proseliete geword het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié twee het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

44. Die volgende Sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om hulle die woord van die Here te hoor preek.

45. Toe die Jode die skares sien, het hulle jaloers geword. Hulle het Paulus beledig en alles teengestaan wat hy gesê het.

46. Paulus en Barnabas het toe reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, wend ons ons nou tot die nie-Jode.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13