Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:2-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. ’n Keer toe hulle bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”

3. Ná nog vas en gebed is hulle die hande opgelê en het die gemeente hulle weggestuur.

4. Deur die Heilige Gees uitgestuur, het Barnabas en Saulus na Seleukië toe afgegaan en daarvandaan na die eiland Siprus toe oorgevaar.

5. In Salamis aangekom, het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes as helper gehad.

6. Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ’n Joodse towenaar teëgekom het, ’n vals profeet met die naam Barjesus.

7. Hy was saam met die goewerneur, Sergius Paulus, wat ’n verstandige man was. Die goewerneur het Barnabas en Saulus genooi om die woord van God van hulle te hoor.

8. Die towenaar Elimas (sy naam word só vertaal) het hulle egter teengestaan omdat hy die goewerneur wou weghou van die Christelike geloof.

9. Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom stip aangekyk

10. en gesê: “Duiwelskind! Jy loop oor van al wat skelmstreek en bedrogspul is! Vyand van alles wat reg is! Sal jy nooit ophou om die reguit paaie van die Here vol kronkels te maak nie?

11. Nou is die strawwende hand van die Here op jou. Jy sal blind word en die son ’n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het hy net mistigheid en donkerte gesien, en hy het rondgetas en gesoek na iemand om sy gids te wees.

12. Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy gelowig geword, en hy was verstom oor die Christelike leer.

13. Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en by Perge in Pamfilië vasgemeer. Daar het Johannes hulle verlaat en teruggegaan Jerusalem toe.

14. Barnabas en Paulus het egter die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië aangekom.Op die Sabbatdag het hulle die sinagoge binnegegaan en gaan sit.

15. Ná die gebruiklike voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir ons ’n woord van bemoediging het, kom praat!”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13