Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:16-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek.

17. Petrus was verdwaas. Wat kon die gesig tog beteken? Juis op daardie stadium kry die mans wat deur Kornelius gestuur is, die huis en hulle staan by die voordeur. Hulle was op soek na die huis van Simon

18. en vra toe of Simon met die noemnaam Petrus daar ’n gas is.

19. Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, het die Gees vir hom gesê: “Hier is drie mans wat jou soek.

20. Gaan ondertoe en moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ék het hulle gestuur.”

21. Petrus het toe ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”

22. Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.”

23. Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan.

24. Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep.

25. Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid.

26. Maar Petrus het hom opgehelp en gesê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!”

27. En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10