Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 1:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. “Die Vader bepaal hierdie datums,” het Hy geantwoord, “en die bedoeling is nie dat julle dit moet ken nie.

8. Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

9. Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn.

10. Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.

11. Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

12. Na hierdie gebeure het die apostels van die Olyfberg af na Jerusalem toe teruggestap, ’n afstand van net onder ’n kilometer.

13. Hulle is toe na die bovertrek toe waar hulle tuisgegaan het. Die volgende persone was daar: Petrus, Johannes, Jakobus, Andreas, Filippus, Tomas, Bartolomeus, Matteus, Jakobus (seun van Alfeus), Simon die Yweraar, en Judas (seun van Jakobus).

14. Hulle het almal saam aanhou bid. Maria, Jesus se ma, ander vroue en Jesus se broers was ook by.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 1