Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 1:5-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Johannes het met water gedoop, maar júlle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6. Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het die apostels Jesus aanhou vra: “Here, is dit nou die tyd dat U Israel weer ’n onafhanklike volk met ’n eie koning gaan maak?”

7. “Die Vader bepaal hierdie datums,” het Hy geantwoord, “en die bedoeling is nie dat julle dit moet ken nie.

8. Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

9. Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn.

10. Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.

11. Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

12. Na hierdie gebeure het die apostels van die Olyfberg af na Jerusalem toe teruggestap, ’n afstand van net onder ’n kilometer.

13. Hulle is toe na die bovertrek toe waar hulle tuisgegaan het. Die volgende persone was daar: Petrus, Johannes, Jakobus, Andreas, Filippus, Tomas, Bartolomeus, Matteus, Jakobus (seun van Alfeus), Simon die Yweraar, en Judas (seun van Jakobus).

14. Hulle het almal saam aanhou bid. Maria, Jesus se ma, ander vroue en Jesus se broers was ook by.

15. In daardie tyd was daar ’n byeenkoms van sowat 120 gelowiges. Petrus het tussen hulle opgestaan en gesê:

16. “Medegelowiges, dit was nodig dat die Skrif oor Judas vervul moes word – dié man wat die tempelpolisie wat Jesus wou arresteer, na Hom toe gelei het. Die Heilige Gees het dit al lankal voorspel toe Hy deur Dawid daaroor gepraat het.

17. Judas was inderdaad een van ons, en hy is ook saam met ons gekies vir hierdie bediening.”

18. (Met die omkoopgeld wat Judas vir sy verraad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en sy middellyf het oopgebars. Al sy ingewande het uitgepeul.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 1