Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 1:11-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

12. Na hierdie gebeure het die apostels van die Olyfberg af na Jerusalem toe teruggestap, ’n afstand van net onder ’n kilometer.

13. Hulle is toe na die bovertrek toe waar hulle tuisgegaan het. Die volgende persone was daar: Petrus, Johannes, Jakobus, Andreas, Filippus, Tomas, Bartolomeus, Matteus, Jakobus (seun van Alfeus), Simon die Yweraar, en Judas (seun van Jakobus).

14. Hulle het almal saam aanhou bid. Maria, Jesus se ma, ander vroue en Jesus se broers was ook by.

15. In daardie tyd was daar ’n byeenkoms van sowat 120 gelowiges. Petrus het tussen hulle opgestaan en gesê:

16. “Medegelowiges, dit was nodig dat die Skrif oor Judas vervul moes word – dié man wat die tempelpolisie wat Jesus wou arresteer, na Hom toe gelei het. Die Heilige Gees het dit al lankal voorspel toe Hy deur Dawid daaroor gepraat het.

17. Judas was inderdaad een van ons, en hy is ook saam met ons gekies vir hierdie bediening.”

18. (Met die omkoopgeld wat Judas vir sy verraad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en sy middellyf het oopgebars. Al sy ingewande het uitgepeul.

19. Die nuus oor sy dood het vinnig onder die inwoners van Jerusalem versprei. Hulle het daardie plek toe Akeldama genoem, ’n Aramese woord wat “Bloedgrond” beteken.)

20. Petrus het voortgegaan: “Dis presies soos dit in die Psalmboek geskryf staan: ‘Laat sy woonplek verlate word; laat niemand daar bly nie.’ “En op ’n ander plek: ‘Laat iemand anders sy toesigverantwoordelikheid oorneem.’

21. “Daarom moet ons nou iemand anders kies. Dit moet een van die mans wees wat die hele tyd toe die Here Jesus by ons was, ook saam met ons was –

22. van die tyd toe Jesus heel aan die begin deur Johannes gedoop is, tot op die dag toe Hy van ons in die hemel opgeneem is. Die een wat gekies word, sal saam met ons ’n getuie wees van Jesus se opstanding.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 1