Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 1:14-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. In die uitlewing van die Joodse godsdiens het ek in my ouderdomsgroep bo baie van my volksgenote uitgestaan. Ek was besig om my uitermate te beywer vir die tradisies van my voorgeslagte.

15. Maar toe het God besluit – Hy wat my al voor my geboorte gekies het en my deur sy genade geroep het –

16. om sy Seun aan my bekend te maak. Dit het gebeur sodat ek Hom aan die nie-Joodse nasies kan verkondig. Ek het nie dadelik met mense gepraat nie.

17. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan na hulle wat reeds voor my apostels was nie. Nee, ek het Arabië toe gegaan en van daar af teruggekom Damaskus toe.

18. Eers drie jaar later is ek Jerusalem toe om Petrus te ontmoet. Ek het twee weke by hom gebly,

19. maar van die ander apostels het ek niemand gesien nie behalwe Jakobus, die broer van die Here.

20. Kyk, God is my getuie dat die dinge wat ek vir julle skryf nie leuens is nie.

21. Daarna het ek na die gebied van Sirië en Silisië toe gegaan.

22. Die Christene in die gemeentes van Judea het my nog nie persoonlik geken nie.

23. Hulle het net gehoor: “Die persoon wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy wou uitroei!”

24. En hulle het God oor my geprys.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 1