Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 6:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

13. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.

14. Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.

15. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.

16. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.

17. Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.

18. Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

19. Bid ook vir my, dat wanneer ek moet praat, woorde aan my gegee sal word om met vrymoedigheid die geheime plan van die Goeie Nuus bekend te maak.

20. As ambassadeur van hierdie Goeie Nuus is ek in boeie. Bid dat ek, soos dit hoort, die Goeie Nuus met vrymoedigheid sal verkondig.

21. Tigikus, die geliefde broer, wat die Here getrou dien, sal julle alles vertel sodat julle kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen.

22. Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, dat julle kan weet hoe dit met ons gaan en gerusgestel kan word.

23. Mag God die Vader en die Here Jesus Christus vrede, liefde en geloof vir ons broers en susters gee.

24. Mag God se genade met almal wees wat ons Here Jesus Christus met ’n blywende liefde liefhet.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 6