Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 6:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Kinders, omdat julle aan die Here verbonde is, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees. Dit is mos die regte ding om te doen!

2. “Eer jou vader en jou moeder” is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ’n belofte verbind is:

3. “Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe.”

4. En pa’s, moenie julle kinders so behandel dat hulle verbitterd word nie, maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra.

5. Slawe, wees gehoorsaam aan julle aardse eienaars. Respekteer en eerbiedig hulle sonder om skynheilig te wees. Gehoorsaam hulle soos julle Christus sou gehoorsaam.

6. Moenie mense probeer tevrede stel deur net gehoorsaam te wees wanneer hulle julle kan sien nie. Nee, werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen.

7. Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie.

8. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon, of dit nou slawe is of vry mense.

9. En eienaars, julle moet met dieselfde verantwoordelikheid teenoor julle slawe optree. Hou op om julle slawe te dreig. Julle weet mos dat julle een en dieselfde Eienaar in die hemel het, en dat Hý niemand voortrek nie.

10. Ten slotte: Vind krag in julle verbondenheid aan die Here, ja, in die krag van sý sterkte!

11. Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

12. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

13. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.

14. Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.

15. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.

16. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.

17. Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 6