hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

God se geheime plan

1. Hier volg nou die rede waarom ek, Paulus, die gevangene in diens van Christus, vir julle, die nie-Jode, bid.

2. Julle het seker gehoor van die bediening wat God uit genade aan my toevertrou het, ’n bediening in julle belang.

3. ’n Geheime plan is deur openbaring aan my bekendgemaak. Oor dié geheime plan het ek hierbo kortliks geskryf.

4. Deur dit te lees kan julle ’n begrip vorm van my insig in die geheime Christusplan.

5. God het hierdie geheime plan nie in vorige geslagte aan mense bekendgemaak nie, maar nou het Hy dit deur die Gees bekendgemaak aan die apostels en profete wat aan Hom toegewy is.

6. Dié geheime plan is dat die nie-Joodse nasies deur Christus Jesus saam sal deel in die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus verkry word.

7. Uit genade het God my die gawe gegee om ’n dienaar van hierdie Goeie Nuus te word. Die gawe is aan my gegee deur die werking van God se krag.

8. Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie genade gegee om aan die nie-Joodse nasies die onmeetlike rykdom van Christus te verkondig!

9. Ek moet vir almal duidelik maak hoe God, die Skepper van alle dinge, die geheime plan uitvoer wat nog altyd verborge was.

10. Die doel hiermee is om nou deur die kerk vir al die bose hemelse regeerders en maghebbers te wys hoe allesomvattend die wysheid van God

11. se ewige plan is, dié plan wat Hy deur Christus Jesus ons Here tot uitvoer bring.

12. Deur Christus en ons geloof in Hom, kan ons met vertroue vrymoedig na God toe gaan.

13. Om hierdie rede vra ek dat julle nie moedeloos word oor my swaarkry ter wille van julle nie. Dit strek tot julle eer!

Paulus se gebed vir die Efesiërs

14. Daarom kniel ek voor die Vader.

15. Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde.

16. Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word.

17. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees.

18. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is.

19. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.

20. Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.

21. Die kerk wat aan Christus Jesus verbind is, moet Hom prys deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen.