Ou Testament

Nuwe Testament

3 Johannes 1:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dié brief kom van die ouderling en word gerig aan Gaius, die vriend wat ek opreg liefhet terwyl ons saam verbonde is aan die waarheid.

2. Geliefde vriend, ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan.

3. Ek was baie ingenome toe hier van die gelowiges aangekom het en getuig het dat jy jou aan die waarheid verbind het om in ’n hegte verbondenheid daaraan te lewe.

4. Ek ervaar geen groter blydskap as juis wanneer ek hoor dat my kinders in ’n hegte verbondenheid aan die waarheid lewe nie.

5. Geliefde vriend, jy tree betroubaar op in wat jy ook al vir die gelowiges doen, selfs al is hulle vreemdelinge.

6. Hulle het voor die gemeente plegtig vertel van jou liefde. Jy doen goed deur hulle op hulle reise voort te help soos God dit wil hê.

7. Inderdaad, hulle gaan rond ter wille van die saak van Christus en ontvang niks van die ongelowiges nie.

8. Ons moet sulke mense ondersteun, sodat ons saam medewerkers kan word in diens van die waarheid.

9. Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes wat homself graag eerste stel, het ons gesag eenvoudig nie aanvaar nie.

10. Daarom, wanneer ek ook al kom, sal ek sy optrede onthou: Hy belaster ons deur bose gerugte te versprei, en asof dit nie genoeg is nie, ontvang hy selfs ook nie die gelowiges nie. Dié wat dit nog wil doen, verhinder hy en verban hulle uit die gemeente.

11. Geliefde vriend, moet tog nie dié slegte voorbeeld navolg nie. Volg liewer die goeie. Dié wat goed doen, is van God afkomstig; dié wat sleg doen, het God tot nou toe nie gesien nie.

12. Almal getuig positief oor Demetrius; ook die waarheid self onderskryf dit. Ons getuig dit ook en jy weet dat ons getuienis betroubaar is.

Lees volledige hoofstuk 3 Johannes 1