hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Tot met Jesus se terugkeer is dit

genade- en gereedmaaktyd

1. Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skryf. In albei het ek probeer om julle weer helder te laat dink deur julle geheue te verfris.

2. Ek wil hê julle moet die woorde onthou van die profete wat aan God toegewy was. Onthou ook wat ons Here en Verlosser julle deur julle apostels beveel het.

3. Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is.

4. Hulle sal soos volg redeneer: “Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was.”

5. Hulle vergeet opsetlik dat God lank gelede met sy woord die hemele geskep het, en dat Hy die aarde uit water laat opkom het en met water omring het.

6. En dit is ook met water dat Hy die destydse wêreld oorstroom en laat vergaan het.

7. God het presies só – deur sy woord – beskik dat die hemele en die aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.

8. Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

9. Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.

10. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ’n dief. Dan sal die hemele met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

11. Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe!

12. Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt.

13. Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ’n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe.

14. Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede met God.

15. En onthou: Die Here se geduld is ’n geleentheid om verlos te word. Dis presies soos Paulus, ons geliefde broer, aan julle geskryf het met die wysheid wat God hom gegee het.

16. Hy praat hieroor in al sy briewe. Sommige van die opmerkings in sy briewe is moeilik om te verstaan. Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe, soos hulle dit trouens ook met ander dele van die Skrif doen. Só bewerk hulle hulle eie ondergang.

Petrus se slotwoorde

17. Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie saamgesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie. Ek wil nie hê dat julle julle eie standvastigheid verloor nie.

18. Sorg liewer dat julle steeds groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.