Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 4:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Gedurig word ons wat nog lewe, ter wille van Jesus aan die dood uitgelewer sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggaam sigbaar kan word.

12. Gevolglik is die dood in ons aan die werk, maar in julle die lewe.

13. Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: “Ek het geglo; daarom het ek gepraat,” glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek.

14. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek om ons saam met julle voor Hom te stel.

15. Ons doen dit alles ter wille van julle sodat die genade van God, soos dit oor meer en meer mense spoel, ook die dankbetuiging al hoe meer kan laat word, en God se heerlikheid so erken kan word.

16. Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.

17. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.

18. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 4