Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 5:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Dan sal hulle skuldig wees aan die verbreking van hulle vorige belofte.

13. Buitendien word hulle waarskynlik lui en bestee hulle tyd deur van huis tot huis te skinder, hulle te bemoei met ander mense se besigheid en dinge te sê wat kon gebly het.

14. Daarom raai ek hierdie jonger weduwees aan om te hertrou, kinders te hê en hulle eie huise te versorg. Dan sal hulle die vyand geen aanleiding gee om ons te beskinder nie.

15. Want ek is bevrees dat sommige van hulle alreeds afgedwaal het en nou Satan volg.

16. As ’n Christenvrou weduwees in haar familie het, moet sy hulle versorg en nie die verantwoordelikheid op die gemeente afskuif nie. Dan kan die gemeente dié weduwees versorg wat werklik alleen is.

17. Ouderlinge wat hulle werk goed doen, moet ook goed betaal word, veral dié wat hard werk in prediking én lering.

18. Want die Skrif sê: “Moenie ’n os verhinder om te eet terwyl hy die graan uittrap nie.” En op ’n ander plek: “Dié wat werk, verdien hulle loon.”

19. Moenie na klagtes teen ’n ouderling luister nie, tensy daar twee of drie getuies is wat hom aankla.

20. Enigeen wat sondig, moet voor die hele gemeente berispe word sodat die ander ook op hulle hoede kan wees.

21. In die teenwoordigheid van God en Christus Jesus en die heilige engele beveel ek jou ernstig om hierdie opdragte uit te voer sonder om kant te kies of besondere guns aan enigeen te bewys.

22. Moet nooit oorhaastig ’n ouderling aanstel nie. Moenie aan ander se sondes deel hê nie. Hou jou rein van die sonde.

23. Moenie aanhou om net water te drink nie; drink ’n bietjie wyn ter wille van jou maag omdat jy so dikwels siek word.

24. Onthou, sommige mense lei openlik sondige lewens, en almal weet dat hulle geoordeel sal word. Ander weer se sondes sal eers later aan die lig kom.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 5