Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 5:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Moet nooit onbeskof met ’n ouer man praat nie, maar spoor hom met respek aan asof hy jou eie pa is. Praat met die jonger mans soos wat jy met jou eie broers sou praat.

2. Vermaan die ouer vroue soos jou ma, en vermaan die jonger vroue met alle eerbied soos jou eie susters.

3. Respekteer en versorg dié weduwees wat niemand anders het om na hulle om te sien nie.

4. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié leer om hulle praktiese godsdiens heel eerste tuis te beoefen en hulle ouers en grootouers te vergoed deur hulle te versorg. Dit is iets wat God baie bly maak.

5. ’n Vrou wat ’n egte weduwee is, iemand wat werklik alleen in die wêreld is, het haar hoop op God geplaas. Dag en nag vra sy God om hulp, en bestee baie tyd in gebed.

6. Maar die weduwee wat net vir plesier leef, is geestelik dood.

7. Gee hierdie opdragte aan die gemeente sodat die weduwees wat julle onderhou, nie berispe word nie.

8. Dié wat nie hulle eie familie versorg nie, veral dié wat in dieselfde huishouding woon, verloën wat ons glo. Sulke mense is slegter as ongelowiges.

9. ’n Weduwee wat op die lys vir dienende weduwees kom, moet ’n vrou van ten minste 60 jaar oud wees. Sy moes getrou aan haar man gewees het.

10. Sy moet gerespekteer wees deur almal vanweë die goeie dade wat sy gedoen het. Het sy haar kinders goed opgevoed? Was sy gasvry teenoor vreemdelinge? Het sy ander gelowiges nederig gedien? Het sy dié wat in die moeilikheid was, gehelp? Het sy altyd reggestaan om goed te doen?

11. Die jonger weduwees moenie op die lys kom nie, want hulle liggaamlike behoeftes sal hulle toewyding aan Christus bedreig, en hulle sal wil hertrou.

12. Dan sal hulle skuldig wees aan die verbreking van hulle vorige belofte.

13. Buitendien word hulle waarskynlik lui en bestee hulle tyd deur van huis tot huis te skinder, hulle te bemoei met ander mense se besigheid en dinge te sê wat kon gebly het.

14. Daarom raai ek hierdie jonger weduwees aan om te hertrou, kinders te hê en hulle eie huise te versorg. Dan sal hulle die vyand geen aanleiding gee om ons te beskinder nie.

15. Want ek is bevrees dat sommige van hulle alreeds afgedwaal het en nou Satan volg.

16. As ’n Christenvrou weduwees in haar familie het, moet sy hulle versorg en nie die verantwoordelikheid op die gemeente afskuif nie. Dan kan die gemeente dié weduwees versorg wat werklik alleen is.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 5