hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wees versigtig vir dwaalleraars

in die laaste tye!

1. Die Heilige Gees leer ons duidelik dat in die laaste tye sommige mense sal wegdraai van wat ons glo; hulle sal leuengeeste volg en leerstellings wat van bose geeste af kom.

2. Hierdie dwaalleraars is skynheiliges en leuenaars. Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood.

3. Hulle sal sê dit is verkeerd om getroud te wees en verkeerd om sekere kosse te eet. Maar God het daardie kosse geskep om met danksegging geëet te word deur mense wat die waarheid ken en glo.

4. Aangesien alles wat God geskep het goed is, moet ons nie enigiets daarvan verwerp nie. Ons moet dit met blydskap ontvang, met dankbare harte.

5. Want ons weet dit word deur die woord van God en gebed aan God toegewy.

Wees ’n waardige dienaar in jou

onderrig en leefstyl!

6. As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ’n waardige dienaar van Christus Jesus, een wat gevoed word deur die boodskap van geloof en die ware leringe wat jy navolg.

7. Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid.

8. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende.

9. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word.

10. Hiervoor swoeg en veg ons, want ons hoop is op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, en veral van dié wat glo.

11. Gee instruksies oor hierdie dinge en onderrig die mense daarvolgens.

12. Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit.

13. Totdat ek daar opdaag, konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig.

14. Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het deur die profesieë wat oor jou uitgespreek is toe die ouderlinge van die gemeente jou die hande opgelê het nie.

15. Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien.

16. Let goed op jouself en jou leer. Bly getrou aan wat reg is, en jy sal jouself red sowel as almal wat na jou luister.