Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 1:4-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Moenie dat mense tyd mors met eindelose spekulasies oor mites en geslagsregisters nie. Want hierdie dinge veroorsaak net twisgesprekke; dit bevorder nie ’n lewenspatroon van geloof in God nie.

5. Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en opregte geloof kom.

6. Maar sommige leermeesters het hiervan afgewyk en bestee hulle tyd aan argumente en verval in dwase praatjies.

7. Hulle wil bekend wees as leermeesters van die wet van Moses, maar hulle verstaan nie wat hulle sê nie.

8. Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit gebruik soos God dit bedoel het

9. en besef die wet is nie soseer gemaak vir mense wat reg optree nie, maar eerder vir mense wat ongehoorsaam en opstandig is, wat teen God is en sondig, wat niks as heilig beskou nie en dit wat heilig is, besoedel; wat hulle vader of moeder of ander mense doodmaak.

10. Die wet is vir mense wat seksueel immoreel is, vir seksuele perverte, vir slawehandelaars, vir leuenaars, eedbrekers en vir hulle wat enigiets anders doen wat die gesonde leer weerspreek –

11. dié leer wat ooreenstem met die heerlike Goeie Nuus wat aan my toevertrou is deur ons goeie God.

12. Hoe dankbaar is ek teenoor Christus Jesus ons Here. Hy het my krag gegee en betroubaar geag om my in sy diens te stel,

13. selfs al het ek voorheen die Naam van Christus belaster. Ek het sy mense vervolg en hulle mishandel. Maar God het sy genade aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het.

14. Hoe oorvloedig was die onverdiende goedheid van ons Here nie en hoe het Hy my nie oorlaai met geloof en met die liefde wat ons deel word wanneer ons aan Christus Jesus verbind word nie.

15. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal.

16. Maar juis daartoe was God my genadig dat Christus Jesus aan my, die ergste sondaar van almal, God se groot geduld kon illustreer en my as voorbeeld kon gebruik vir hulle wat nog sal glo en só die ewige lewe sal ontvang.

17. Aan die ewige Koning, die onsterflike, onsigbare, enigste God, die eer en die heerlikheid vir ewig en altyd. Amen.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 1