Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 4:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ten slotte, broers en susters, vra ons julle en spoor ons julle aan om as deel van julle verhouding met die Here Jesus julle leefstyl in te rig volgens die voorskrifte wat julle van ons ontvang het oor hoe julle moet lewe om God gelukkig te maak. Julle doen dit ook, maar lê julle nóg meer daarop toe.

2. Julle onthou mos nog die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle gegee het.

3. Dis God se wil dat julle aan Hom toegewy moet lewe. Weerhou julle van seksuele sondes.

4. Elkeen van julle moet weet hoe om op te tree wanneer julle ’n vrou soek. Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek.

5. Moenie uit seksuele drange ’n vrou soek soos die ongelowiges wat God nie ken nie.

6. Niemand moet in hierdie opsig sy medegelowige benadeel of misbruik nie, want die Here wreek al sulke dinge. So het ons ook vroeër vir julle gesê en julle ernstig gewaarsku.

7. God het ons mos nie geroep tot ’n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy.

8. Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie ’n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee!

9. Ek hoef nie vir julle te skryf oor die liefde wat ons vir mekaar moet hê nie, want julle is deur God self geleer om mekaar lief te hê.

10. Julle tree inderdaad so teenoor alle medegelowiges in Masedonië op. Nogtans spoor ons julle aan, broers en susters: Lê julle nog meer daarop toe

11. en laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe, met julle eie sake besig te wees en met julle eie hande te werk. Hierdie riglyne het ons al vroeër aan julle gegee

12. sodat die buitestanders agting vir julle leefstyl sal kry, en julle in geen opsig gebrek sal ly nie.

13. Broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toekomsvooruitsig nie.

14. Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring.

15. Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Tessalonisense 4