Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 5:2-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. As herders moet julle die kudde van God goed oppas; hulle is aan julle toevertrou. Hou gewillig toesig oor hulle, nie omdat julle gedwing word nie, maar omdat julle wil doen wat God wil hê; nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan.

3. Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde.

4. En wanneer die Hoofherder verskyn, sal julle deel kry aan sy heerlikheidskroon wat nooit vergaan nie.

5. En julle, jong manne, erken die gesag van die ouderlinge. Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want:“God is téén dié wat te veel van hulleself dink,maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan húlle gee Hy sy genade.”

6. Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak.

7. Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.

8. Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

9. Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

10. In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.

11. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

12. Ek skryf hierdie kort briefie aan julle met Silvanus se hulp. Hy is ’n getroue broer. Die doel met my brief is om julle te bemoedig en te verseker dat die genade van God met julle is, ongeag wat met julle gebeur.

13. Julle susterskerk hier in Rome stuur vir julle groete. Markus, my seun, stuur ook vir julle groete.

14. Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde.Vrede vir julle almal wat aan Christus verbind is!

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 5