Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 35:13-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. “So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: ‘Gaan sê vir die manne van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim: “Wil julle nie lering ontvang deur na My woorde te luister nie?” verklaar יהוה.

14. “Die woorde van Yonadav, die seun van Rekhav, wat hy sy seuns beveel het om geen wyn te drink nie, het hulle gehou. Hulle drink dus geen wyn tot vandag toe nie, want hulle het hulle vader se bevel gehoorsaam. Ék het egter met julle gepraat, keer op keer; tog het julle nie na My geluister nie.

15. Ek het ook al My diensknegte, die profete, keer op keer na julle toe gestuur om te sê: ‘Draai elkeen weg van sy verkeerde lewenswyse en verander julle dade en loop nie agter ander gode aan om hulle te aanbid nie. Dan sal julle bly in die land wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het,’ maar julle het nie julle oor gedraai of na My geluister nie.

16. Inderdaad, die seuns van Yonadav, die seun van Rekhav, het die bevel van hulle vader gehou wat hy hulle beveel het, maar hierdie volk luister nie na My nie.”

17. יהוה, die God van die leërmagte, die God van Yisra’el, sê daarom: “Let op, Ek bring oor Y’hudah en oor al die inwoners van Yerushalayim al die rampe wat Ek teen hulle verklaar het omdat Ek met hulle gepraat het, maar hulle nie geluister het nie en Ek hulle geroep het, maar hulle nie geantwoord het nie.’”

18. Toe sê Yirmeyahu vir die huis van die Rekhaviete: “So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: ‘Omdat julle die opdrag van julle vader Yonadav gehoorsaam het; al sy opdragte gehou en gedoen het volgens alles wat hy julle beveel het;

19. daarom, so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Yonadav, die seun van Rekhav, sal nooit ’n man ontbreek om altyd voor My Teenwoordigheid te staan nie.”’”

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 35