Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 35:1-9 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die woord wat vanaf יהוה tot Yirmeyahu gekom het in die dae van Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah:

2. “Gaan na die huis van die Rekhaviete en praat met hulle en bring hulle na die huis van יהוה, in een van die kamers in en gee vir hulle wyn om te drink.”

3. Toe het ek vir Ya’azanyah, die seun van Yirmeyahu, die seun van Havatzinyah, gevat, sy broers, al sy seuns en die hele huis van die Rekhaviete

4. en ek het hulle in die huis van יהוה ingebring, in die kamer van die seuns van Hanan, die seun van Yigdalyahu, die man van God, wat naby die kamer van die amptenare is, wat bo die kamer van Ma’aseiyah, die seun van Shallum, die deurwagter is.

5. Toe het ek voor die manne van die huis van die Rekhaviete kruike vol wyn en bekers neergesit en vir hulle gesê: “Drink wyn,”

6. maar hulle het geantwoord: “Ons sal nie wyn drink nie, want Yonadav, die seun van Rekhav, ons vader, het ons beveel en gesê: ‘Julle mag geen wyn drink nie, julle of julle seuns, vir ewig.

7. Julle mag nie ’n huis bou of saad saai of wingerd plant of een besit nie, maar julle moet in tente woon al julle dae sodat julle baie dae mag lewe in die land waar julle besoekers is.’

8. Ons het die stem van ons vader Yonadav, die seun van Rekhav, gehoorsaam, in alles wat hy ons beveel het, om geen wyn te drink al ons dae nie, ons, ons vroue, ons seuns en ons dogters,

9. of om vir ons huise te bou om in te bly nie en ons het geen wingerd of landerye of saad nie.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 35