Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 18:3-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker en daar was hy besig om iets op die wiel te maak,

4. maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het misluk in die hand van die pottebakker; hy het die klei weer gemeng en ’n ander houer gemaak, soos wat die pottebakker goed gedink het om te maak.

5. Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

6. “Kan Ek nie soos hierdie pottebakker met julle maak nie, o huis van Yisra’el?” verklaar יהוה. “Let op, soos die klei in die hand van die pottebakker, so is julle in My hand, o huis van Yisra’el!

7. As ek skielik sou praat van ’n nasie of ’n koninkryk om dit te ontwortel, af te breek of te vernietig;

8. as dié nasie waarteen Ek gepraat het, wegdraai van hulle boosheid af, sal Ek die boosheid wat Ek teen hulle beplan het, wegdraai;

9. of in ’n ander oomblik sal Ek praat oor ’n nasie of oor ’n koninkryk om dit op te bou of te plant;

10. as dit doen wat verkeerd is in My oë deur nie My stem te gehoorsaam nie, dan sal Ek van gedagte verander oor die goeie waarmee Ek belowe het om dit te seën.

11. Nou dan, praat met die manne van Y’hudah en teen die inwoners van Yerushalayim en sê: ‘So sê יהוה: “Let op, Ek beplan rampe teen julle en werk ’n plan uit teen julle. O, draai terug, elkeen van julle van sy bose pad en hervorm julle lewenswyse en julle dade.’”

12. Hulle het egter gesê: ‘Ons sal sterk word en volgens ons eie planne optree en elkeen van ons sal volgens die hardkoppigheid van sy bose verstand, wil en emosie optree.’

13. יהוה sê daarom: ‘Vra nou onder die volke, wie het al ooit so iets gehoor? Die maagd van Yisra’el het ’n mees afskuwelike ding gedoen.

14. Verdwyn die groen gras vanaf die berg of verlaat die sneeu L’vanon? Hou die koue water wat uitborrel en afstroom, op met vloei?

15. Tog het My volk My vergeet, hulle brand wierook vir die waardelose gode en hulle het gestruikel in hulle lewenswyses, afgedwaal van die antieke lewenswyses, om te loop op paaie waarop nie geloop is nie,

16. om hulle land ’n verlatenheid te maak, ’n voorwerp van ewige bespotting; elkeen wat daar verbygaan, sal verstom wees en sy kop skud.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 18