Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 13:1-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. So het יהוה vir my gesê: “Gaan koop vir jou ’n linne gordel en bind dit om jou heupe, maar moet dit nie in water sit nie.”

2. Ek het die gordel gekoop volgens die woord van יהוה en dit om my heupe gesit.

3. Toe het die woord van יהוה vir die tweede keer tot my gekom en gesê:

4. “Vat die gordel wat jy gekoop het, wat om jou heupe is en staan op, gaan na die Eufraat en steek dit daar weg in ’n klipskeur.”

5. Ek het gegaan en dit weggesteek by die Eufraat, soos יהוה my beveel het.

6. Ná baie dae het יהוה vir my gesê: “Staan op, gaan na die Eufraat en gaan haal die gordel van daar af wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.”

7. Toe het ek na die Eufraat gegaan en gegrawe en die gordel gevat van die plek af waar ek dit weggesteek het en let op, die gordel was bederf, dit was totaal waardeloos.

8. Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

9. “So sê יהוה: ‘Net so sal Ek die trots van Y’hudah en die groot trots van Yerushalayim vernietig.

10. Laat hierdie bose volk wat weier om na My woorde te luister, wat loop in die hardkoppigheid van hulle verstand, wil en emosie en agter ander gode aan loop om hulle te dien en voor hulle neer te buig, wees net soos hierdie gordel wat totaal waardeloos is,

11. want soos die gordel kleef aan die heupe van ’n man, so het Ek die hele huis van Yisra’el en die hele huis van Y’hudah aan My laat kleef,’ verklaar יהוה, ‘om vir My ’n volk te wees, vir roem, vir lofprysing en vir lof en eer, maar hulle het nie geluister nie;’

12. daarom moet jy hierdie boodskap vir hulle gee: ‘So sê יהוה, die God van Yisra’el: “Elke kan moet vol wyn gemaak word.’” Wanneer hulle vir jou sê: ‘Weet ons nie baie goed dat elke kan vol wyn gemaak moet word nie?’

13. Dan moet jy vir hulle sê: ‘So sê יהוה: “Let op, Ek is op die punt om al die inwoners van hierdie land te vul met dronkenskap, die konings wat namens Dawid op sy troon sit, die priesters, die profete en al die inwoners van Yerushalayim.

14. Ek sal hulle teen mekaar verbrysel, beide die vaders en die seuns saam,” sê יהוה. “Ek sal nie medelye wys of jammer wees of omgee om hulle te vernietig nie.”’”

15. Luister en gee aandag; moenie hooghartig wees nie, want יהוה het gepraat!

16. Gee eer, lof en aanbidding aan יהוה, julle God, voordat dit donker word en voordat julle voete struikel op die skemerige berge en terwyl julle wag op lig, maak Hy dit tot diep duisternis en verander dit na die skaduwee van die dood,

17. maar as julle nie daarna wil luister nie, sal ekself in die geheim huil vir sulke hoogmoed en my oë sal bitterlik huil en afloop in trane omdat die kudde van יהוה gevange geneem is.2 Kon 24:12

18. Sê aan die koning en die koninginmoeder: “Verneder julleself en erken en draai weg, want die kroon van julle lof en eer het van jul kop af afgeval.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 13