Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 18:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het die hele vergadering van die seuns van Yisra’el by Shiloh bymekaargekom en daar die Tent van Ontmoeting opgeslaan en die land was voor hulle onderwerp.

2. Daar het onder die seuns van Yisra’el nog sewe stamme oorgebly aan wie nie hulle erfenis gegee is nie.

3. Toe sê Y’hoshua aan die seuns van Yisra’el: “Hoe lank sal julle uitstel om die land in te gaan en in besit te neem wat יהוה, die God van julle vaders, vir julle gegee het?

4. Voorsien vir julleself drie manne uit elke stam sodat ek hulle kan uitstuur en dat hulle kan opstaan en deur die land loop en ’n beskrywing daarvan neerskryf volgens hulle erfenis; dan moet hulle na my toe terugkom.

5. Hulle moet dit in sewe dele verdeel; Y’hudah sal in sy gebied in die suide bly en die huis van Yosef sal in sy gebied in die noorde bly.

6. Julle moet die land in sewe afdelings beskryf en die beskrywing hier na my toe bring. Ek sal hier voor die Teenwoordigheid van יהוה, ons God, vir julle die lot werp,

7. want die Leviete het geen deel onder julle nie omdat die priesterskap van יהוה hulle erfenis is. Gad, Re’uven en die halwe stam van M’nasheh het ook hulle erfenis ontvang oorkant die Yarden in die ooste, wat Moshe, die dienskneg van יהוה, vir hulle gegee het.”

8. Die manne het toe opgestaan en gegaan en Y’hoshua het hulle wat gegaan het beveel en gesê: “Gaan en loop deur die land en beskryf dit en kom na my toe terug; dan sal ek hier voor יהוה in Shiloh vir julle die lot werp.”

9. Die manne het gegaan en deur die land getrek en dit volgens stede op ’n boekrol beskryf in sewe afdelings en na Y’hoshua toe gekom in die kamp van Shiloh.

10. Y’hoshua het vir hulle die lot gewerp in Shiloh, voor יהוה en Y’hoshua het die land daar onder die seuns van Yisra’el verdeel, volgens hulle afdelings.

11. Die lot vir die stam van die seuns van Binyamin, volgens hulle families, het opgekom en die gebied van hulle lot het gelê tussen die seuns van Y’hudah en die seuns van Yosef.

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 18