Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 10:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Nou het dit gebeur dat toe Adoni-Tzedek, die koning van Yerushalayim, hoor dat Y’hoshua `Ai ingeneem en dit heeltemal vernietig het; net soos hy met Yerigo en sy koning gedoen het, so het hy met `Ai en sy koning gedoen en dat die inwoners van Giv’on vrede gesluit het met Yisra’el en in hulle land was,

2. hy baie bang geword het omdat Giv’on ’n groot stad was, soos een van die koninklike stede en omdat hy groter as `Ai was en al sy manne kragtig was.

3. Adoni-Tzedek, die koning van Yerushalayim, het daarom na Hoham, die koning van Hevron, na Pir’am, die koning van Yarmut, na Yafia, die koning van Lakhish en na D’vir, die koning van `Eglon, gestuur om te sê:

4. “Kom op na my toe en help my dat ons Giv’on kan aanval omdat dit met Y’hoshua en met die seuns van Yisra’el vrede gesluit het.”

5. So het die vyf Emoritiese konings bymekaargekom en opgetrek: die koning van Yerushalayim, die koning van Hevron, die koning van Yarmut, die koning van Lakhish en die koning van `Eglon; hulle en al hul leërmagte en hulle het by Giv’on gekamp en daarteen geveg.

6. Toe het die manne van Giv’on na Y’hoshua gestuur, na die kamp by Gilgal, om te sê: “Moenie u diensknegte in die steek laat nie, kom gou op na ons toe en red ons en help ons, want al die konings van die Emoriete, wat in die Bergland bly, het teen ons bymekaargekom.”

7. Y’hoshua het opgetrek vanaf Gilgal, hy en al die manskappe en al die dapper soldate saam met hom.

8. יהוה het vir Y’hoshua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek het hulle in jou hand gegee; nie een van hulle sal voor jou standhou nie.”

9. Y’hoshua het, deur die hele nag deur van Gilgal af te marsjeer, skielik op hulle afgekom

10. en יהוה het hulle in verwarring gebring voor Yisra’el en hy het hulle geslaan met ’n groot slagting by Giv’on en hulle agtervolg op die opgaande pad van Beit-Horon en hulle verslaan so ver as `Azekah en Makkedah.

11. Terwyl hulle voor Yisra’el uit vlug op die afdraande van Beit-Horon, het יהוה groot haelstene vanaf die hemel op hulle gegooi so ver as tot by `Azekah en hulle het gesterf. Daar het meer gesterf deur die haelstene as wat die seuns van Yisra’el met die swaard doodgemaak het.

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 10