Ou Testament

Nuwe Testament

Yesha'yahu 65:4-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. wat tussen die grafte sit en die nag in geheime plekke deurbring; wat varkvleis eet en in hulle potte is die mengsel van onrein vleis,

5. wat sê: ‘Bly by jouself! Kom nie naby my nie, want ek is meer afgesonder as jy!’ Hulle is rook in My neusgate, ’n vuur wat die hele dag brand.

6. Let op, dit staan voor My geskryf, Ek sal nie stilbly nie, maar Ek sal terugbetaal; Ek sal selfs in hulle boesem terugbetaal,

7. beide hulle onregverdigheid en die onregverdigheid van hulle vaders saam,” sê יהוה. “Omdat hulle wierook op die berge gebrand het en My gespot het op die heuwels sal Ek al hulle vorige werke in hulle boesem uitmeet.”

8. So sê יהוה: “Soos die nuwe wyn in die tros gevind word en een sê: ‘Verniel dit nie, want daar is voordeel in dit,’ so sal Ek optree ter wille van My diensknegte, om nie almal van hulle te vernietig nie.

9. Ek sal ’n nageslag uit Ya’akov laat voortkom en ’n erfgenaam van My berge uit Y’hudah; My gekoses sal dit erf en My diensknegte sal daar bly.

10. Sharon sal ’n weiveld vir kleinvee wees en die vallei van Akhor ’n rusplek vir beeste, vir My volk wat My soek,

11. maar julle wat יהוה verlaat, wat My afgesonderde berg vergeet, wat ’n tafel dek vir Gad (die geluksgod) en gemengde wyn inskink vir Meni (die god van die noodlot),

12. sal Ek bestem vir die swaard en julle almal sal neerbuig vir die slagting omdat Ek geroep het, maar julle het nie geantwoord nie, Ek het gepraat, maar julle het nie gehoor, geluister en gedoen nie en julle het boosheid voor My oë gedoen en gekies wat My nie behaag nie.”

13. יהוה-God sê daarom: “Let op, My diensknegte sal eet, maar julle sal honger bly. Let op, My diensknegte sal drink, maar julle sal dors wees. Let op, My diensknegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.

14. Let op, My diensknegte sal vreugdevol uitroep met ’n vrolike verstand, wil en emosie en júlle sal uitskree met ’n swaar gemoed en huil met ’n gebreekte gees.

15. Julle sal jul naam as ’n vloek vir My gekoses laat agterbly en יהוה-God sal jou doodslaan, maar My knegte sal met ’n ander naam genoem word,

16. want hy wat in die aarde geseënd is, sal deur die God van waarheid geseënd wees en hy wat sweer op die aarde, sal sweer by die God van waarheid, want die vorige moeilikhede is vergeet en hulle is verborge vir My oë,2 Kef 3:13; Open 21:1

Lees volledige hoofstuk Yesha'yahu 65