Ou Testament

Nuwe Testament

Yesha'yahu 41:8-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. “Maar jy, Yisra’el, My dienskneg, Ya’akov, wat Ek gekies het, nageslag van Avraham, My vriend,

9. jy, wat Ek gevat het van die eindes van die aarde af en van sy verste dele geroep het en vir jou gesê het: ‘Jy is My dienskneg; Ek het jou gekies en jou nie verwerp nie;

10. moenie vrees nie, want Ek is by jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek sal jou versterk, sekerlik sal Ek jou help en jou ondersteun met My regverdige regterhand.’

11. Let op, almal wat kwaad is vir jou sal beskaamd staan en onteer word; hulle wat jou teëstaan sal soos niks wees en vergaan.

12. Jy sal hulle wat met jou stry soek, maar hulle nie kry nie, die wat teen jou oorlog voer sal wees soos niks en wat nie bestaan nie,

13. want Ek is יהוה, jou God, wat jou regterhand ophou, wat vir jou sê: ‘Moenie vrees nie, Ek sal jou help.’

14. Moenie vrees nie, wurmpie Ya’akov, manne van Yisra’el! Ék sal jou help,” verklaar יהוה “en jou Loskoper is die Afgesonderde Een van Yisra’el.

15. Let op, Ek het van jou ’n skerp, dorsslee gemaak met dubbel snykante; jy sal berge dors en fyn maal en die heuwels maak soos kaf.

16. Jy sal hulle uitwan en die wind sal hulle wegdra en die storm sal hulle verstrooi, maar jy sal in die rondte swaai van vreugde in יהוה, jy sal roem en eer in die Afgesonderde Een van Yisra’el.

17. Die geteisterdes en behoeftiges soek water, maar daar is niks nie en hulle tong verskroei van dors; Ek, יהוה, sal hulle self antwoord; as die God van Yisra’el, sal Ek hulle nie in die steek laat nie.

18. Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die valleie; Ek sal die wildernis ’n poel van water maak en die droë land fonteine van water.

19. Ek sal die seder in die wildernis sit, die akasia en die mirt en die olyfboom; Ek sal die jenewerboom in die woestyn plant saam met die palmhoutboom en die sipres

20. sodat hulle kan sien en herken, oorweeg en insig kry dat die hand van יהוה dit gedoen het en die Afgesonderde Een van Yisra’el dit geskep het.

Lees volledige hoofstuk Yesha'yahu 41