Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 22:17-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê:

18. “Seun van ’n mens, die huis van Yisra’el het vir My vuilgoed geword; hulle is almal koper, tin, yster en lood binne die smeltoond; hulle is die skuim van silwer;

19. daarom, so sê יהוה-God: ‘Omdat julle almal vuilgoed geword het, let op, Ek sal julle in die middel van Yerushalayim bymekaar maak.

20. Soos wat hulle silwer, koper, yster, lood en tin binne-in ’n smeltoond bymekaarmaak om daarteen ’n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaar maak in My woede en in My toorn en julle ingooi en smelt.

21. Ek sal julle bymekaar maak en met die vuur van My toorn op julle blaas en julle sal dáárin gesmelt word.Spr 25:4

22. Soos silwer in die smeltoond gesmelt word, so sal julle dáárin gesmelt word en julle sal weet dat Ek, יהוה, My toorn oor julle uitgegiet het.’”

23. Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê:

24. “Seun van ’n mens, sê vir haar: ‘Jy is ’n land wat nie gereinig is, wat nie reën gekry het in die dag van verontwaardiging nie.’

25. Daar is ’n sameswering van haar profete in haar midde soos ’n brullende leeu wat die prooi verskeur. Hulle het lewens verteer; skatte en kosbare dinge weggevat; hulle het baie weduwees in haar midde gemaak.

26. Haar priesters verkrag My wet en onteer My afgesonderde dinge; hulle maak geen onderskeiding tussen afgesonderde en onteerde nie en die verskil tussen onrein en rein leer hulle nie; hulle maak hul oë toe vir My Shabbatte en Ek word onder hulle onteer.

27. Haar prinse is in haar soos wolwe wat die prooi verskeur, deur bloed te vergiet en lewens te vernietig om onregverdige wins te maak.

28. Haar profete het vir hulle wit kalk gesmeer deur valse visioene te sien en vir hulle leuens te voorspel met die woorde: ‘So sê יהוה-God,’ wanneer יהוה nie gepraat het nie.

29. Die mense van die land het onderdrukking toegepas en diefstal gepleeg; hulle het die armes en behoeftiges ingedoen en die vreemdeling onderdruk sonder regverdige oordeel.Ps 106:23

30. Ek het onder hulle ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor My Teenwoordigheid in die bres kan tree vir die land sodat Ek dit nie sou verwoes nie, maar Ek het niemand gevind nie;

31. daarom het Ek My verontwaardiging oor hulle uitgegiet; Ek het hulle deur die vuur van My toorn verteer; Ek het hulle lewenswyse op hulle kop laat neerkom,” verklaar יהוה-God.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 22