Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 12:15-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. So sal hulle weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek hulle onder die nasies verstrooi en hulle oor die lande uitsprei.

16. Ek sal egter ’n paar van hulle laat oorbly van die swaard, die hongersnood en die pes sodat hulle al húlle verwerplikhede onder die nasies kan vertel waar hulle ook al gaan en mag weet dat Ek יהוה is.”

17. Verder het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

18. “Seun van ’n mens, jy moet jou brood met bewing eet en jou water met siddering en benoudheid drink.

19. Dan moet jy vir die mense van die land sê: ‘So sê יהוה-God aangaande die inwoners van Yerushalayim, in die land van Yisra’el: “Hulle sal hul brood met benoudheid eet en hulle water met afgryse drink omdat hulle land van sy volheid gestroop sal word vanweë die geweld van almal wat daarin woon.

20. Die bewoonde stede sal woes gelaat word en die land sal ’n verlatenheid wees. So sal julle weet dat Ek יהוה is.”’”

21. Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

22. “Seun van ’n mens, wat is die spreekwoord wat julle het aangaande die land van Yisra’el, naamlik: ‘Die dae is lank en elke visioen faal?’

23. Sê daarom vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Ek sal hierdie spreekwoord laat ophou sodat hulle dit nie meer as ’n spreekwoord in Yisra’el sal gebruik nie.” Sê egter vir hulle: “Die dae kom nader, sowel as die vervulling van elke visioen,

24. want daar sal nie langer enige vals visioen of vleiende waarsêery in die huis van Yisra’el wees nie,

25. want Ek, יהוה, sal praat en watter woord Ek ook al praat, sal uitgevoer word. Dit sal nie langer uitgestel word nie, want in julle dae, o rebelse huis, sal Ek die woord sê en dit uitvoer,” verklaar יהוה-God.”’

26. Verder het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

27. “Seun van ’n mens, let op, die huis van Yisra’el sê: ‘Die visioen wat hy sien, is vir baie jare vorentoe en hy profeteer van tye wat ver is;’

28. daarom, sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Nie een van My woorde sal meer uitgestel word nie; watter woord Ek ook al praat, sal uitgevoer word,”’” verklaar יהוה-God.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 12