Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 9:4-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. “Wie eenvoudig is, laat hom na my toe kom;” vir wie insig kortkom sê sy:

5. “Kom, eet van my brood en drink van die wyn wat ek gemeng het;

6. laat staan die eenvoudigheid en lewe en gaan op die pad van insig.”

7. Teregwysing van ’n spotter bring oneer; die bose word bestraf deur sy eie vlekke.

8. Moenie ’n spotter bestraf nie, anders haat hy jou; bestraf ’n wyse en hy sal jou liefhê.

9. Gee ’n geleentheid aan die wyse en hy sal nog wyser word; leer die regverdige en hy sal kennis vermeerder.

10. Die respekvolle vrees vir יהוה is die begin van wysheid en die kennis aangaande die Afgesonderde is insig,

11. want deur haar sal jou dae vermeerder word en die jare van jou lewe sal vermeerder word.

12. My seun, as jy wys is, is jy wys vir jouself en vir jou vriende, maar as jy bose gedagtes het, sal jy alleen jou booshede dra.

13. Hy wat dinge ontken, voed valslik op wind en volg voëls in die lug, want hy het die pad na sy wingerd verlaat en die pad van sy arbeid, om in die wildernis sonder water te loop; in die deurtrapte plekke loop hy dors en bereik niks.

14. ’n Dwase vrou is uitdagend, sy weet nie wat skaamte is nie, sy sit op ’n hoë stoel by die deur van haar huis.

15. Sy roep hulle wat verbygaan, wat reg op hulle paaie loop.

16. Sy sê: “Wie eenvoudig is, laat hom na my toe kom!” Vir hulle wat insig kortkom sê sy:

17. “Gesteelde water is soet en brood in die geheim geëet, is lekker.”

18. Hy weet egter nie dat magtige manne by haar sterf en dat haar gaste in die dieptes van Sh’ol is nie. 19 (Peshitta en LXX) Staan nou op en moenie in daardie plek bly nie, moenie na haar kyk nie en gaan so verby die waters van vreemdelinge, gaan oor ’n vreemde rivier en jy moenie drink van die rivier van vreemdelinge nie. Deur so te doen sal ’n menigte dae en jare by jou lewe gevoeg word.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 9