Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 30:15-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. Die bloedsuier het drie dogters, daar is drie dinge wat nooit versadig word nie; ja, ’n vierde wat nooit sê: “Dit is genoeg,” nie:

16. Sh’ol en die onvrugbare baarmoeder, die aarde wat nie bevredig word met water nie en die vuur wat nooit sê: “Dit is genoeg,” nie!

17. Die oog wat spot met sy vader en die ouderdom van sy moeder verag, sal deur die kraaie van die vallei uitgepik word en die jong aasvoëls sal dit eet.

18. Daar is drie dinge wat vir my weggesteek is, ja, vier wat ek nie ken nie:

19. die manier van die arend in die lug, die manier van ’n slang op ’n rots, die manier van ’n skip in die middel van die see en die manier van ’n man in sy jeug.

20. Dit is die lewenswyse van ’n vrou wat owerspel pleeg: sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het geen boosheid gedoen nie.”

21. Onder drie dinge bewe die aarde en onder vier kan hy nie uithou nie:

22. onder ’n slaaf wanneer hy heers en ’n dwaas wanneer hy vol is van brood;

23. onder ’n haatlike vrou as sy trou en onder ’n slavin as sy haar meesteres se erfenis oorneem.

24. Daar is vier dinge wat klein is op die aarde, maar hulle is wyser as wyse manne:

25. die miere wat geen krag het nie en tog voorsien hulle hul kos in die somer;

26. die klipdassies kom krag kort en tog maak hulle hul huise in die rots;

27. die sprinkane wat geen koning het nie en tog vergader hulle almal saam;

28. die geitjie met klouende pote wat jy maklik vang, maar in konings se paleise is.

29. Daar is drie dinge wat goed stap, ja, vier wat statig is in hulle stap:

30. die leeu wat die magtigste is onder diere en wat nie vrees of omdraai voor enige wilde dier nie;

31. die haan wat trots loop tussen die kuikens; die bokram wat voor die trop uitloop en ’n koning wat tussen die mense praat.

32. Begeer nie sodat jy nie tereggewys word nie; moenie jouself voed met dinge wat verkeerdelik verkry is nie.

33. Deur die karring van die melk kom botter voort en die draai van die neus bring bloed; so bring die forsering van woede stryd voort.”

Lees volledige hoofstuk Spreuke 30