Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 26:8-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Soos ’n klip in ’n slingervel, so is hy wat eer gee aan ’n dwaas.

9. Dorings spring op in die hand van ’n dronkaard en dwaasheid in die mond van die dwaas.

10. Die liggaam van ’n dwaas word baie geteister en ’n dronkaard dink dat hy ’n see kan oorgaan.

11. Soos ’n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan, so is ’n dwaas wat in sy dwaasheid verkeerd optree.

12. As jy ’n man sou sien wat wys is in sy eie oë, ’n dwaas is beter as hy.

13. Wanneer hy gestuur word, sê die luiaard: “Daar is ’n leeu op die pad en let op, daar is moord in die strate!”

14. Soos ’n deur op sy skarniere draai, so draai die luiaard op sy bed.

15. Die luiaard steek sy hande weg binne sy kleed en sal nie eens weer probeer om hulle na sy mond te bring nie.

16. Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe manne met goeie oortuiging.

17. Hy wat inmeng in ’n twis wat hom nie aangaan nie, is soos een wat ’n hond aan die ore gryp.

18. Soos trotse manne wat skerp en dodelike woorde uiter soos pyle,

19. so is die man wat sy naaste bedrieg; wanneer hy gevang word, sê hy: “Ek het net ’n grap gemaak.”

20. Wanneer daar geen hout is nie, gaan die vuur dood en waar daar geen twisgierige is nie, hou die stryd op.

21. Soos kole is vir gloeiende kole en hout vir vuur, so is ’n twisgierige man om stryd aan te hits.

22. Die woorde van ’n twisgierige stook moeilikheid op, hulle gaan af tot in die binneste van die verstand, wil en emosie.

23. Soos silwer skuim wat aan ’n kleipot vassit, so is woedende lippe en ’n bose verstand, wil en emosie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 26