Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:31-43 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

31. Hy het boodskappers misleidend na Avimelekh gestuur om te sê: “Let op, Ga’al, die seun van `Eved en sy familielede het na Sh’khem gekom en let op, hulle steek die stad teen u op.

32. Nou, daarom, staan in die nag op, u en die manne wat by u is en lê en wag in die veld.

33. In die oggend, sodra die son op is, moet u vroeg opstaan en teen die stad aanstorm en let op, wanneer hy en die manne wat by hom is, teen u uittrek, sal u met hom doen net waartoe u in staat is.”

34. Avimelekh en al die manne wat by hom was, het in die nag opgestaan en in vier groepe gelê en wag teen Sh’khem.

35. Ga’al, die seun van `Eved, het uitgegaan en by die ingang van die stadspoort gaan staan en Avimelekh en al die manne wat by hom was, het uit die hinderlaag uit opgestaan.

36. Toe Ga’al die mense sien sê hy vir Z’vul: “Kyk, daar kom mense van die bergtoppe af,” maar Z’vul sê vir hom: “Jy sien die skaduwee van die berge asof hulle mense is!”

37. Ga’al het weer gepraat en gesê: “Kyk, daar kom mense van die hoogste deel van die land af en een deel kom uit die rigting van die eik van die towenaar.”

38. Toe sê Z’vul vir hom: “Waar is jou grootpratery nou waarmee jy gesê het: ‘Wie is Avimelekh dat ons hom sou dien?’ Is dit nie die manne wat jy verag het nie? Gaan nou uit en veg teen hulle!”

39. Toe gaan Ga’al uit voor die leiers van Sh’khem en veg teen Avimelekh.

40. Avimelekh het hom agtervolg en hy het voor hom uit gevlug en baie is gewond en het geval tot by die ingang van die poort.

41. Toe het Avimelekh in Arumah gebly, maar Z’vul het Ga’al en sy familielede uitgedryf sodat hulle nie in Sh’khem kon bly nie.

42. Dit het die volgende dag gebeur dat die mense uitgegaan het in die veld en dit is aan Avimelekh vertel.

43. Hy het sy manne gevat en hulle in drie groepe verdeel en in die veld lê en wag; toe hy sien dat die mense uit die stad uitkom, staan hy op teen hulle en verslaan hulle.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9