Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 68:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Vir die musiekleier: ’n gedig van Dawid met instrumentale musiek; ’n lied. 2 Laat God opstaan; laat Sy vyande verstrooi word en laat hulle wat Hom haat voor Hom uit vlug!

2. Soos rook weggedryf word, laat hulle só verdwyn; soos was smelt voor die vuur, laat die bose sterf in die Teenwoordigheid van God,

3. maar laat die regverdiges bly wees, laat hulle sterk wees in die Teenwoordigheid van God, laat hulle hul verheug in Sy blydskap.

4. Sing tot God, sing en maak musiek tot Sy Karakter en Outoriteit (Naam); lig Hom hoog wat op die hemele ry; יהוה is Sy Naam; spring van vreugde in Sy Teenwoordigheid!

5. ’n Vader van die vaderloses en ’n Regter van die weduwees is God in Sy afgesonderde blyplek.

6. God plaas heeltemal alleen kinders in ’n huisgesin; Hy bevry die wat met kettings gebind is in oorwinning, maar die wat rebels is, bly in ’n geskroeide land.

7. O God, toe U wel uitgetrek het voor U volk, toe U wel deur die wildernis marsjeer het,

8. het die aarde geskud en die hemele neergebuig voor die Teenwoordigheid van God; selfs Sinai self is beweeg voor die Teenwoordigheid van God, die God van Yisra’el!

9. U, o God, het ’n oorvloedige reën gestuur waardeur U U erfenis bevestig het toe dit moeg was.

10. U lewende wesens het daarin gewoon; U, o God, het deur U goedheid vir die armes voorsien!

11. יהוה sal goeie boodskappe bring met baie krag,

12. dan sal die konings van die leërmagte verslaan word en die huishouding van God sal die buit verdeel.

Lees volledige hoofstuk Psalms 68