Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 31:5-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. In U hand gee ek my gees oor; U het my verlos, יהוה, God van waarheid.

6. Ek haat hulle wat valse aanbidding onderhou, maar ék vertrou in U, o יהוה.

7. Ek wil in die rondte swaai van vreugde en blydskap in U goedheid en guns omdat U my pyniging gesien, my lewe in sy teisteringe geken en my nie oorgelewer het

8. in die hand van my vyande nie. U het my voete in rustigheid gevestig.

9. Wys onverdiende guns aan my, o יהוה, want ek is benoud; my oog word swak deur woede, ja, my lewe en my liggaam,

10. want my lewe kwyn weg van verdriet en my jare van gesug; my krag faal as gevolg van my onregverdigheid en my gebeente teer weg.

11. As gevolg van my teëstanders het ek ’n voorwerp van skande geword vir my bure en ’n voorwerp van skrik vir die wat my ken. Die wat my op straat sien, vlug weg van my af.

12. Ek is vergete, uit die gedagtes soos ’n dooie man; ek is soos ’n gebreekte houer,

13. want ek het die skindertaal van baie mense gehoor terwyl hulle saam raad hou teen my en beplan om my lewe te neem.

14. Ek vertrou egter op U, o יהוה! Ek sê: “U is my God, o יהוה.”

15. Tye is in U hand; red my uit die hand van my vyande en van die wat my vervolg.

16. Laat U gesig skyn oor U kneg, verlos my deur U liefdevolle goedheid.

17. Laat my nie beskaamd staan nie, o יהוה, want ek roep uit na U; laat die wetsoortreders beskaamd staan en laat hulle stil wees in Sh’ol!

18. Laat die valse lippe stom word wat arrogant met trots en veragting teen die regverdige praat.

19. O, hoe groot is U goedheid wat U opgegaar het vir dié wat U respekvol vrees, wat U uitgewerk het vir hulle wat in U vertrou in die teenwoordigheid van die mense!

20. U steek hulle weg in die geheime plek van U Teenwoordigheid vir die sameswerings van mense; U steek hulle in U skaduwee weg vir die strydlustige tonge.

21. Geseënd is יהוה, want Hy het Sy liefdevolle goedheid vir my, in ’n beleërde stad, wonderbaarlik gemaak.

22. Ek het in my haas gesê: “Ek is verlore van voor U oë.” Nogtans het U na die stem van my smekinge geluister toe ek uitgeroep het na U.

23. Julle moet יהוה liefhê, al sy getroues! יהוה bewaar die getroues en vergeld die trotses ten volle.

Lees volledige hoofstuk Psalms 31