Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 2:7-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Ek het vir myself slawe en slavinne verkry en het ’n groot huishouding gehad. Ek het ook ’n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Yerushalayim was.

8. Ek het vir myself silwer en goud versamel en die besittings van konings en stede; ek het vir my sangers en sangeresse gekry en die plesiere van die seuns van die mens en ek het vir myself huisknegte en kelnerinne aangestel.

9. Ek het groot geword en my rykdom het vermeerder, meer as almal wat voor my in Yerushalayim was; my wysheid het ook by my gebly.

10. Wat ook al my oë begeer, het ek nie van hulle af weggehou nie; ek het nie my verstand, wil en emosie van enige vreugde teruggehou nie, want my verstand, wil en emosie het hom verheug in al my harde werk en hierdie was my deel van al my harde werk.

11. Toe het ek gekyk na al die werke wat my hande tot stand gebring het en al die harde werk wat ek gedoen het en let op, dit was alles waardeloos en ’n ergernis in die gees en daar was geen voordeel onder die son nie.

12. Ek het rondgekyk om na wysheid, malligheid en dwaasheid op te let, want wie is die man wat die koning kan oordeel, veral teenoor Hom wat hom gemaak het?

13. Toe het ek gesien dat die wysheid uitstyg bo die dwaasheid soos die lig uitstyg bo die duisternis.

14. Die wyse het sy oë in sy kop, maar die dwaas loop rond in duisternis en ek het self gesien dat een ongeluk met hulle almal gebeur.

15. Toe het ek in myself gesê: “Die ongeluk van die dwaas sal my ook tref; hoekom was ek dan meer wys?” Toe sê ek vir myself: “Ook dit is waardeloos.”

16. Die dwaas praat oppervlakkig, maar die wyse word nie vir ewig méér onthou as die dwase nie, aangesien wat nou is, in die dae wat kom vergete sal wees en net soos die wyse sterf, net so die dwaas!

17. Ek het daarom die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, is pynlik vir my, want alles is waardeloos en ’n ergernis van gees.

18. Ja, ek het al my harde werk gehaat wat ek onder die son gedoen het, want ek moet dit los vir die man wat ná my kom

19. en wie weet of hy ’n wyse sal wees of ’n dwaas? Tog sal hy heerskappy hê oor al my harde werk wat ek gedoen het en waarin ek myself wys bewys het onder die son. Ook dit is dan waardeloos;

20. daarom het ek my siening, oor al die harde werk waarin ek onder die son gewerk het, verander.

21. Daar is ’n man wat met wysheid, kennis en bekwaamheid werk; tog los hy sy deel vir ’n man wat nie daarvoor gewerk het nie. Ook dit is waardeloos en ’n groot teëspoed,

22. want watter voordeel sal die mens hê van al sy harde werk en van die begeertes van sy binneste waarin hy onder die son hard gewerk het?

Lees volledige hoofstuk Prediker 2