Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:27-42 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

27. Hulle het weggegaan rondom die tente van Korag, Datan en Aviram, maar Datan en Aviram het uitgekom en by die deur van hulle tente gaan staan saam met hulle vroue, seuns en klein kinders.

28. Moshe het gesê: “Hieraan sal julle weet dat יהוה my gestuur het om al hierdie werke te doen, want ek het hulle nie uit my eie gedoen nie:

29. as hierdie mense sterf soos alle mense of met die besoeking van alle mense besoek word, dan het יהוה my nie gestuur nie,

30. maar as יהוה iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle insluk met alles wat aan hulle behoort en hulle lewendig na Sh’ol afgaan, dan sal julle verstaan dat hierdie manne יהוה verwerp het.”

31. Dit het gebeur dat toe hy al hierdie woorde klaar gepraat het, die grond wat onder hulle was oopskeur

32. en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle ingesluk saam met hul huisgesinne en al die mense wat saam met Korag was en al hulle besittings.

33. So het hulle saam met almal wat by hulle was, lewend na Sh’ol afgegaan, die aarde het bo hulle toegemaak en hulle is vernietig vanuit die vergadering uit.

34. Die hele Yisra’el wat rondom hulle was, het by die hoor van die klank gevlug, want hulle het gesê: “Die aarde mag ons ook insluk!”

35. ’n Vuur het van יהוה af uitgegaan en die twee honderd en vyftig man verteer wat die reukwerk geoffer het.

36. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

37. “Sê vir El’azar, die seun van Aharon, die priester, dat hy die vuurpanne uit die brand moet optel, want hulle is afgesonder en die vuur ver weg moet gooi.

38. Die vuurpanne van dié wat gesondig het ten koste van hulle eie lewe, laat daarvan dun plate gemaak word as ’n bedekking vir die altaar, want hulle het dié voor die Teenwoordigheid van יהוה aangebied; daarom is hulle afgesonder en hulle sal vir die seuns van Yisra’el ’n teken wees.”

39. El’azar, die priester, het die koper vuurpanne gevat wat die mense wat verbrand is, aangebied het en hulle is uitgeslaan as ’n bedekking vir die altaar,

40. as ’n herinnering vir die seuns van Yisra’el dat geen vreemde persoon, wat nie uit die nageslag van Aharon is nie, nader sal kom om reukwerk voor die Teenwoordigheid van יהוה te offer nie sodat hy nie word soos Korag en sy groep nie, soos יהוה deur die hand van Moshe gesê het.

41. Die volgende dag het die hele vergadering van die seuns van Yisra’el teen Moshe en Aharon gekla en gesê: “Julle het die dood van die volk van יהוה veroorsaak.”

42. Dit het gebeur dat terwyl die vergadering teen Moshe en Aharon bymekaarkom, hulle hul na die Tent van Ontmoeting gedraai het en let op, die wolk het dit bedek en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het verskyn.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16